Thursday, January 8, 2009

Nuwe jaar...nuwe missie!

Haai haai,

Sommer begin deur almal van julle 'n wonderlike nuwe jaar toe te wens:) Ons is weer terug in die meer gematigde Escondido na ons bibber-koue wit kersfees saam met die familie in Reno, Nevada.

Die beste nuus hierdie kant is dat ons met die aanbreek van die nuwe jaar ons 'very very humble abode' verruil het vir 'n groter plek (paleis) met 'n aparte slaapkamer...hehaa! Dinge lyk nou sommer baie blinker. Die luukse daarvan om kos te kon maak terwyl jy op die toilet sit, of 'n bier uit die yskas te gryp deur net jou arm uit te steek van enige plek in die woonstel, het vinnig sy glans verloor:) Die beste van alles is dat julle nou twee-twee vir ons kan kom kuier en verseker kan wees van slaapplek.

Die ander ding op die agenda is dat ek en Bella hierdie jaar behoorlik afskop met ons voorbereiding vir die roepingspad terug na Suid Afrika. Bella sit elke week drie klipharde skofte in om haar kennis in kinder-verpleging te verbreed en ek pak DV in Februarie die eerste jaar van my teologiese studies aan. Ek het al lekker met die proffies hierdie kant gesels en ek kan eenvoudig nie wag om te begin nie...

'We have a mission' en ons is erg opgewonde daaroor. Daar is min dinge wat meer vreugde bring as om die gevoel te kry dat jy in-lyn lewe met die doel waarvoor jy met sorg aanmekaar getimmer is:) Ons word natuurlik elke dag goed herinner waarvoor ons onsself ingelaat het...ons verlang kwaai na julle almal, die onsekerheid oor waar die geldjies vandaan gaan kom druk maar altyd so op die kantlyn en elke nou en dan steek die twyfel sy boosaardige boskasie uit om ons goed skrik te maak.

Die wonderlikste ding is om eerstehands te beleef hoe God 'n mens se vlammetjie aan die gang hou te midde van die kwaai druk wat mens ervaar wanneer jy jou gemaksone moet verlaat en dinge wat vir jou baie na aan die hart is moet prysgee sodat jy die vervulling van Sy beloftes kan proe. Ons kan nog elke maand met 'n glimlag terugkyk na die paaie wat Hy vir ons gelyk gemaak het...en dit spoor ons aan om vorentoe te kyk met minder twyfel en meer vertroue.

Ons het ook goeie nuus ontvang oor die kindertjies van die weeshuis waar Bella gedurende haar tydjie in Suid Afrika uitgehelp het (http://www.botshabelo.co.za/). Baie van die kindertjies het beter huise gekry vandat ons weg is uit Suid Afrika:) Dis ongelooflike nuus as 'n mens die realiteit van hulle gebroke bestaantjies mooi besef. Ons sal waardeer as julle saam met ons bid vir Botshabelo.

Ek het nog geen nuus van my visa verandering gekry, maar die tyd raak nou ryp en ek hardloop elke dag met groot afwagting posbus toe:)

Dankie vir almal wat kaartjies en ander lekkernye gepos het oor die kerstyd. Lyk my die hondjies by USPS sukkel om biltong deur die vakuumplastiek te ruik...hoeraa!!!

Groete tot volgende keer,
Jac & Bella