Monday, July 27, 2009

Wheheee, Jac promofeer na Grieks Tweeheee!!!

Hello weer,

Ons vier fees! Ek het toe sowaar vandag na Grieks II gepromofeer...whohooo!

Dit beteken op GEEN manier dat ek myself nou as 'n Griekse meester beskou nie, maar dit het ons 'n hele paar sent gespaar en ek het onmenslik baie geleer. Ek het toestemming om die Grieks I klas gratis te oudit en dit is nét wat ek gaan doen. Ek draf van môre oggend af klas vir die volgende vyf weke - net sonder die spanning wat daarmee gepaardgaan:)

Dankie vir al julle ondersteuning, gebede en duime. 'n Spesiale dankie aan my vriend DJ wat my aanspreeklik gehou het en my Griekse geboortepyne heelwat verminder het met sy insette en slimmighede.

Groete tot volgende keer,
Jac

Saturday, July 25, 2009

Bella se besoek aan die paneelklopper

Hello julle almal,

Soos julle almal seker weet is Bella laas Woensdag bietjie na die paneelklopper (panelbeater) vir herstelwerk aan haar regter knie.

Sy vorder mooi en kan al sonder krukke ons woonstel se trappe klim - al neem dit haar ook nou 10 minute:-)

Hier is 'n paar fotos vir die wat nuuskierig is oor hoe 'n skeur in die medial meniscus nou eintlik lyk. Ek kan nie sê dat ek sin uit die spulletjie kan maak nie, maar as julle kan is ek bly. Dis darem oulik dat hulle so kan fotos neem terwyl hulle opereer.

Before:















After:















Alles het mooi geloop en die dokter belowe 'n splinternuwe knie (yesss!!! nou kan ons Half-dome in Yosemite gaan stap!).

Bella het blykbaar lekker baklei toe sy bykom...nou weet hulle hoe ek elke aand moet koes wanneer Bella nagmerries kry:)

Dankie vir almal se bemoedigende eposse en oproepe. Wat sal ons sonder julle maak?

Terloops, ek skryf komende Maandag (27 Julie) my Griekse plasingseksamen en draf klas van Dinsdag. Sal laat weet hoe dit gaan. Dis nou swot tyd!

Ons groet vir eers. Skryf gerus vir ons...dis nou makliker as ooit met die Stoffies Posbus!

Koebaai,
Jac & Bella

Thursday, July 9, 2009

Independence Day @ Yosemite
















Hello hello hello,

Ons is weer terug na 'n lang blog-vakansie:) Daar het intussen so baie gebeur dat ek byna nie kans sien om te begin tik nie.

Ek swot Grieks dat dit klap vir my plasingseksamen 27 Julie. Die plan is om sommer direk na Grieks II te promofeer. Ek tackle so elke nou en dan al tien of twaalf verse uit Johannes se evangelie en vaar heel goed:) Ek moet intussen ook nog sorg dat ek een keer deur die Bybel kom vir 'n bybelkennis eksamen in September. Ek trek nou maar so by Rigters rond, so daar is nog baie werk. Hou maar duime vas!

Ek het intussen besluit om my graad oor die bestek van vier jaar te voltooi in stede van drie. Dis 'n lang tyd weg van die huis, maar dit maak ruimte vir ekstra vakke (wat baie waarde tot die kursus voeg) en 'n matige las - ek raak al oud man!

Bella is vir so twee maande op ongeskiktheidsverlof. Haar knie lol nou al van ons weg is uit Suid Afrika. Haar twaalf-uur skofte by die hospitaal het net te veel geraak vir die arme knie. Nadat sy eers vir fisioterapie was het ons maar 'n MRI laat neem. Die vabond is sonder moeite vasgetrek - 'n skeur in haar 'medial meniscus'. Sy het pas verneem dat hulle komende Woensdag (15 Julie) sal opereer. Die 'success rate' vir die tipe operasie is darem hoog met min tot geen nagevolge. Dink seblief aan Bella:)

Ons het die afgelope naweek saam met die familie (Engelbrechts, Browns & Stoffies) gaan kamp net buite Yosemite National Park. Dit was vrek besig met die viering van Independence Day, maar ons kon die warboel mense vryspring deur net 'n bietjie vroeer op te staan in die oggende. Die plek is regtig pragtig, al was daar beheerde brande wat die lug so 'n bietjie waserig gemaak het. In die Suide van Yosemite is daar van die grootste en oudste bome op aarde. Die Giant Redwoods word tot 3000 jaar oud en is reusagtig! Een van die bome is so groot dat mens met jou motor deur 'n holte in sy stam kan ry. Ek het dit gewaag om 'n baksel skuinskoek te maak vir die trip...en was dit nou lekkerrrr! Dis sulke klein dingetjies wat die verlange se dors les.

En soos gewoonlik die beste nuus vir laaste:) Ek en Bella het spotgoedkoop vliegkaartjies gekry na Suid Afrika vir die FIFA World Cup 2010! Ons kom kuier volgende jaar Junie so vir 5 weke. Hou maar die kole en die vleisie reg!

Dankie vir die konstante stroom nuus daar uit Suid Afrika. Ons mis julle almal kwai. Die wat geld het moet maar so in die volgende paar jaar kom kuier.

Adios,
Jac & Bella

PS: Moet nie die Yosemite Panoramas wat ons vir julle aanmekaargesit het misloop nie. Laat weet as julle sukkel om dit te sien...ons het so nou en dan probleme met ons server. Die panoramas mag dalk lank neem om te laai - wag maar geduldig.