Monday, December 22, 2008

Monday, November 3, 2008

Hier en daar word 'n droom tog waar...

















Buenos días...

...hier uit 'n snikheet Escondido:) Dit gaan nog goed met die stoffies...dalk te goed!

Die laaste week het soveel dinge opgelewer om oor opgewonde te raak. Daai soort dinge waaroor mens maar net op jou kniee kan gaan sit en dankie se.

Ons het 'n lekker stil week agter die blad en ek en Bella kon baie tyd saam spandeer - iets wat nie sommer gebeur as die rat-race jou aan die enkels beet het nie.

Na 'n lang gespook het ons eindelik my visa aansoeke na die berugte immigrasie dienste gepos en ons bid maar hard dat die persoon wat die koevert oopmaak in 'n goeie bui is:)

Die rand-dollar wisselkoers het sy stem behoorlik dik gemaak die laaste rukkie en het rowwe druk op ons spaargeldjies vir my studies begin sit. Ons was redelik uit die veld geslaan toe ons 'n brief van Westminster Seminary kry wat 'n stewige studiebeurs vir die komende semester aankondig.

Donderdag het afgeskop met 'n groot uittog na Oceanside om te soek vir 'n lekker beginner surfboard waarop ek en Bella die groot branders kan aandurf. Ons het besluit op 'n egg-shape/funboard - 'n lekker "in-betweener" wat stabiliteit en manouverablility betref.

Die twee dapper amateurtjies het Vrydag met Haloween die groot branders by Encinitas gaan trotseer. Ek was dalk 'n tikkie te dapper en het 'n paar keer lekker my alie gesien en op die bodem sand gevreet. Bella was minder braaf, maar op die ou end dalk effens slimmer en het met heelwat minder kneusplekke daarvan afgekom:) Een stappie nader aan pro-surfers!


Ons het 'n lekker vet fairy-tale pampoen gaan uitsoek vir Haloween. Ons het met die messe ingeklim en was kort voor lank 'n vriend met 'n tamaai glimlag, sonbrille en 'n Suid-Afrikaanse krieket-hoedjie ryker:)

Ons bly ongelukkig in 'n omheinde woonstelblok wat gemaak het dat die kinders nie by ons deur kon kom klop vir "trick-o'-treat" nie:( Die drie van ons vaar toe die strate in op soek na kinders vir wie ons lekkers kan uitdeel - so soort van 'n reverse-trick-o'-treat en nogal 'n revolusionere konsep vir die Amerikaners:)

Ons het die naweek afgesluit met 'n lekker kamp by Lake Cuyamaca saam met Pa en Ma Engelbrecht vir Pa se verjaarsdag. 'n Lekker mengsel van braaivleis, geselligheid, staproetes en koue aande met kaggelvure in knus camp-style wood cabins in die berge. Hiep hiep hoeraa vir Pa!

Dit dan so in 'n neutedop die varste brokkies nuus hier uit die Vee-S.A. Dankie vir almal wat kontak hou...dis lekker om te hoor hoe dit met julle gaan.

Alles van die beste,

Jac en Bella

Tuesday, October 21, 2008

Hola de Escondido













'n Groot hello aan al ons vrinne en familie hier van die anderkant van die groot blou ghoen uit Escondido California.

Ons het besluit om maar vir 'n rukkie hier in Amerika te vertoef, want vir so 'n vlug sien ons boude nie gou weer kans nie:)

In 'n neutedop...

(1) Rump-steak (Top-Sirloin soos hy hier bekend staan) is een van die goedkoper snitte in Amerika en dit pas ons uitstekend:)
(2) Houtskool is nerens te vinde en ons moes maar afskaal na brikette totdat Jac se 100 ton besending charcoal met die skip uit Suid Afrika aanland.
(3) Ons bly vir nou in 'n knus klein studiotjie met die voordeel dat jy gelyk kan slaap, op die toilet sit en aandete voorberei. Die pad wat voor die woonstel verby loop gaan oral heen, behalwe see toe:)
(4) Bella werk dat die byle huil met haar twaalf uur skofte, maar sy kan darem nog loop en glimlag wanneer sy in die aande by die huis kom.
(5) Jac spook nog om die wa deur die drif te kry met visa probleme, maar God het al so baie van ons grondpaaie geteer dat ons nie anders kan as om die wereld met moed in die oe te kyk nie. Die visa probleme sal darem seer sekerlik makliker wees om uit te sorteer as my ABSA internet bankdienste:)
(6) Westminster kampus is 'n stukkie rustige hemel en die mense het ons sommer vinnig laat tuis voel by die kerdiens wat hulle Sondae by die chapel op kampus hou.
(7) Ons bly 'n skrale 20 myl van die see af en by ons gunsteling strand (Encinitas) is daar groot braaiputte en hang die seesproei lekker in die lug soos in Buffelsbaai.
(8) Een van ons nuwe huisreels is om Sondae toetentaal af te vat en die honderde staproetes langs die see en in die berge rondom ons te verken. Die plekke hier is pragtig!

Ons sien uit om van almal te hoor en waardeer al julle hulp en gebede to dusver verskriklik.

Adios,
Jac en Bella