Wednesday, March 11, 2009

Wat?! Hoe?! Onmoontlik!!!


Wat sal ek sê?! Hoe sal ek hierdie een begin?! Dalk is Izak se "...wat is die kans?!" 'n goeie plek om weg te spring.

Man kyk, een ding is seker: Ons Vader hoor sy kinders se gebede en Sy genade is wyer as enige-iets wat ons klein koppies ooit kan bedink!

Julle weet almal maar te goed van die knoop waarin ek en Bella onsself die laaste tyd bevind het. Die verskeidenheid terugvoer en e-posse wat ons van julle ontvang het was 'n goeie vertolking van wat in ons eie gedagtes aan die maal was. Sommige van julle het van begin tot einde sterk aangemoedig terwyl ander probeer troos het met "...miskien is dit 'n teken dat dinge nie so moes uitwerk nie.". Alhoewel ek en Bella kan getuig dat ons die grootste gedeelte van die pad rustig en geduldig gewag het, moet ons erken dat daar maar dikwels baie rowwe patches was.

Ek het veral hier teen die ent begin worstel met my eie sondigheid. Soos Moses het ek sterk begin twyfel of ek God reg gehoor het toe Hy my geroep het vir Sy bediening. Bybelgedeeltes soos Titus 1:6-10 het my konstant herinner hoe hoog die vereistes vir die bediening is en hoe vrot ek in my sonde daarvan afsien. Ek het begin dink dat God van plan verander het en dat my swakhede my sou diskwalifiseer om voltyds in die bediening te tree. Ek moes weer van voor af besef dat God juis weens ons absolute donker swakheid sy Seun aan die kruis moes laat sterf om ons los te koop. As dit moes afhang van hoe oulik ons ons gedra, hoe min ons drink en hoe heilig ons probeer wees sou alles 'n nare einde gehad het. Soos Paulus vir die jong Timoteus skryf:

So do not be ashamed to testify about our Lord, or ashamed of me his prisoner. But join with me in suffering for the gospel, by the power of God, who has saved us and called us to a holy life--not because of anything we have done but because of his own purpose and grace. This grace was given us in Christ Jesus before the beginning of time, but it has now been revealed through the appearing of our Savior, Christ Jesus, who has destroyed death and has brought life and immortality to light through the gospel. (2Ti 1:8-10)

Ek sou 'n totale flop gemaak het van alles as God my nie self weer die noodsaaklikheid en vreugde van Sy verlossing laat proe het nie.

Heel aan die begin, toe ek en Bella nog ons keyboards natgehuil het van verlange oor Skype en die roeping-struggles net begin het, het my pa vir ons die volgende gedeelte uit die bybel voorgehou as riglyn en troos vir ons pad (lees dit gerus!):

Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur. God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen. (1 Petrus 5:6-11)

Ons moes nou al meer as een keer terugval op hierdie ongelooflike belofte, meer as een keer onsself in nederigheid onderwerp aan Sy kragtige hand (en ek is tog so deksels trots en hardkoppig), meer as een keer onsself regruk om wakker en nugter te bly veg en meer as een keer die byt van die brullende leeu aan ons agterente voel...net om elke keer maar weer te moet bely dat die krag tot in ewigheid aan Hom behoort - en nie aan onsself nie - voor ons Amen sê!!!

Ek voel so aan my broek dat ons hierdie sirkel in die nabye toekoms weer sal moet loop wanneer die Griekse eksamens nader draai of Bella weer deur poison-ivy loop of so iets:)

Voor ek vergeet om die nuus te deel! Ek het eergister na 'n lang dag se voorbereiding vir die opkomende hofsaak gou die pos gaan uithaal voor ons weeklikse ultimate frisbee game EN RAAI NET WAT EK KRY!!! 'n Brief van USCIS om ons in kennis te stel dat my aansoek goedgekeur is en dat ek wettiglik hier mag vertoef solank as wat my studies duur! Ek moet nogsteeds in die hof verskyn om die saak te sluit, maar nou het ek die pampiere wat ek nodig het:-)

Ons kan nie genoeg dankie sê vir almal wat saam met ons gebid het nie. Dis soooo lekker om dit saam met julle te vier! Ons bid dat alles wat met ons gebeur het julle ook sal laat moed skep.

So op 'n ligter trant dra ons die liedjie aan die onderkant van die post op aan almal wat saam gebid en duimvasgehou het...geniet hom met komplimente van die stoffies en die Kwasizabantu koor! :)

Groete in Christus,
Jac en Bella

Tuesday, March 3, 2009

Diep Waters


Hello weer met 'n sug hier uit Escondido,

Ek raak elke maand net luier en luier met die instandhouding van die Stofberg blog (rondspeel met spesiale effekte uitgesluit). Februarie se uitgawe het eers hier teen die einde van die maand verskyn en dit skep natuurlik nie goeie vooruitsigte vir Maart nie:)

Ek het egter besluit om 'n spoedige opvolg tot die laaste brief in te werk - so 'n nooduitgawetjie om almal wat wonder te laat weet wat met ons aan die gang is en watter hekkies hierdie maand vir ons voorlê.

Soos almal seker weet is dit deesdae nogal taamlik van 'n stryd om goedkeuring te kry om in die V.S.A. te bly, werk of te studeer. Die vereistes is taai en die toepassing van die harige (en meestal vae) immigrasiewette streng om die V.S.A. teen ongewenste elemente te beskerm.

Dit is op hierdie noot waarmee ons verhaaltjie dan nou afskop:

Die verhaal bereik sy klimaks die oggend van 4 Februarie toe ek uit die sto
rt klim en Bella my net betyds waarsku om nie kaal in die gang af te nael na die slaapkamer toe nie! Ek was ietwat verbaas want ons kry selde daardie tyd van die dag kuiergaste. Nog groter was my verbasing toe ek ons gaste in die sitkamer tegemoet gaan en hulle soos een man hulle 'badges' uitruk en aankondig dat hulle gekom het om my te arresteer.

Dis 'n ellelange storie met baie kinkels, maar die basiese lyne loop as volg:

Wanneer 'n mens vanuit jou tuisland vir 'n studente visa (F1 visa) aansoek doen om in die V.S.A te studeer laat dit 'n mens nie toe om die land binne te kom meer as 30 dae voordat jou akademiese program afskop nie. Vir diegene wat vroeer wil verhuis, vir watter rede ookal, stel hulle voor jy kom aanvanklik oor met 'n toeriste visa (B visa) en doen dan aansoek vir 'n verandering van status na die F1 kategorie wanneer die tyd ryp is. Die idee is dat jy met die aansoek van jou toeriste visa aan die konsulaat bekend maak dat jy van plan is om te studeer en hulle dan so 'n klein stempeltjie op jou visa aanbring wat aandui dat jy 'n "prospective student" is.

Dit was vir ons nodig om langer as 30 dae voor die aanvang van my studies na die V.S.A. te oor te kom sodat Bella haar groenkaart status sou behou (sy mag nie langer as 6 maande op 'n keer die land verlaat nie) en sodat ons tyd sou hê om lekker in te settle. Ons enigste opsie was dus die B visa.

Op daardie stadium was ek alreeds meer as 'n jaar lank in besit van 'n geldige toeriste visa van die vereiste kategorie. Ek het dadelik die admissie-personeel van die seminary gekontak om uit te vind hoe ek te werk sou gaan om so 'n stempel op my visa te kry. Na 'n kort ondersoek het hulle laat weet dat dit blyk of 'n immigrasie offisier sommer die stempel op die lughawe by die port of entry kan aanbring indien jy jou planne om te studeer duidelik maak en die nodige papierwerk voorlê. Die idee is natuurlik dat jy nie die V.S.A. binnegaan sonder om duidelik te maak dat jy kom studeer en dan later jou storie verander nie - 'n gunsteling manier vir onwettige immigrante om die land binne te probeer kom.

So gedaan. Toe ons land het ek al die papierwerk voorgelê en duidelik gemaak dat ek hier is om te kom studeer. Lekker naar was dit om te hoor dat die offisier glad nie bewus is van so 'n stempel of die prosedure nie. Ek is uit die ry verwyder en in 'n privaat onderhoud ondervra. Ek het alles verduidelik en dat ek van plan was om Januarie te begin studeer. In die lig van die kastige misverstand het die offisier die geldigheid van my verblyf verkort tot 29 Desember 2008 en voorgestel ek kontak onmiddelik die USCIS om die misverstand op te klaar. Hy meen toe dat dit my genoeg tyd sou gee om vir die verandering van status aansoek te doen.

Na 'n rustige week by my skoonouers in Reno, Nevada het ons na Escondido vertrek waar ek onmiddelik die seminary in kennis gestel het van die dilemma. Met hulle ondersteuning het ek onmiddelik begin met die aansoek vir statusverandering. Die raad uit verskeie oorde was om onder geen omstandighede die land te verlaat nie, maar die aansoek van binne in die V.S.A. aan te pak. Om vanuit Kanada of Mexico aansoek te doen vir 'n studente visa sou 'n dom besluit wees omdat daar geen waarborg sou wees dat ek met my terugkeer in die V.S.A. toegelaat sou word nie. Die plan was bovendien om met die proses waarop ons in Suid Afrika besluit het voort te gaan - volgens alle aanduiding op die USCIS website was dit nog al die tyd 'n geldige roete.

Omdat USCIS op daardie stadium byna ses maande agter was met die verwerking van aansoeke was ons baie besorg oor wat sou gebeur indien hulle langer sou neem om my aansoek te verwerk as wat ek wettiglik in die land kon aanbly (dit sou verder beteken dat ek die eerste semester van my studies sou misloop). Ons het êrens te hore gekom dat jy 'n tipe van 'n neutrale 'case pending' status geniet terwyl jou aansoek verwerk word. Net om seker te maak het ek USCIS se customer helpdesk geskakel. Hulle het my twee maal verseker dat ek wettiglik in die V.S.A. mag vertoef solank as wat my aansoek ondersoek word. Verder het hulle gewaarsku dat ek my aansoek ongeldig sou maak indien ek die land sou verlaat voordat hulle 'n uitspraak gelewer het. Perfek...al wat ek moes doen is om die aansoek in te dien en te bid.

'n Spekvet bondel papierwerk en baie dollars later het USCIS laat weet dat hulle my aansoek op 3 November 2008 ontvang het en dat ek nou eenvoudig moes wag vir die uitslag. Ons het bly bid dat USCIS die verlore tyd op aansoeke sou inhaal sodat ek nog in Januarie kon begin studeer. Nadat jy 'n aansoek ingestuur het kan jy die vordering dophou deur met jou verwysingsnommer op die USCIS webbladsy in te teken. Jy kan hulle onder geen omstandighede oor jou aansoek kontak alvorens die huidige verwerkingsperiode (dinamiese aanduiding op die webtuiste) al uitgeloop het en jy nog geen terugvoer ontvang het nie.

Ons gebed is verhoor toe USCIS skielik hulle agterstallige werk ingehaal het en verwerkingstye vir my tipe aansoek van 6 maande na 3 maande verkort het. Dit het beteken dat ek die eerste semester sou misloop, maar dat ek hopelik teen vroeg Februarie van hulle sou hoor - nog betyds vir die tweede semester.

Angstig vir resultate het ek teen middel Januarie besluit om die congressman van ons distrik se hulp in te roep in die hoop dat hy nuus oor my aansoek in die hande sou kon kry. Ek het aan hom verduidelik dat die tyd begin uitloop vir die volgende semester en sy hulp gevra om die aansoek te bespoedig. Op 23 Januarie 2009 het ek 'n e-pos van een van sy onderdane ontvang. Aangeheg was 'n brief van die een of ander grootkop in die USCIS (21 Januarie gedateer) wat sê dat my aansoek tans deur 'n regter ondersoek word en dat ek weer navraag moet doen indien ek nie binne 30-45 dae van hulle hoor nie.

Die enigste uitweg was maar om geduldig te wag tot 3 Februarie - drie maande nadat ek die aansoek ingehandig het - sodat ek USCIS kon skakel om uit te vind wat aangaan. Op daardie stadium het my online case status nog glad nie verander van die eerste case pending boodskap nie. My oproep is so 'n paar rangordes opgeskuif tot waar ek eindelik met iemand kon praat wat my kon sê wat aangaan. Raai net wat sê die dame toe vir my (let op die vetgedrukte datums hoër op): Dat daar al 16 Januarie 'n besluit oor my aansoek gemaak is!

Nogal interessante nuus nadat die USCIS terugvoer van die congressman bevestig het dat my aansoek nog teen 21 Januarie ondersoek is en effens onststellend omdat ek self nog geen terugvoer oor die klaarblyklike besluit ontvang het nie. Die dame kon my nie sê wat die uitslag van my aansoek is nie en voorgestel ek kontak hulle maar weer indien ek nie binne 30-45 dae terugvoer in die pos ontvang het nie.

Die tyd het nou erg begin druk! Ek het alreeds my handboeke gekoop en die semester sou binne minder as sewe dae afskop. Die dame het voorgestel ek maak 'n afspraak my my lokale USCIS field office in 'n poging om vroeër uit te vind wat die besluit was. So gemaak...

Hier is ons dan nou weer by 4 Februarie 2009 en terug by die klimaks van ons verhaal. Die ICE special agents daag by ons huis op nadat hulle eers 'n draai by die seminary gemaak het om die admissie personeel te ondervra. Hulle werk heeltemal onafhanklik van USCIS en is verantwoordelik daarvoor om onwettige immigrante te arresteer en te deporteer.

Hulle het gevra dat ek my identifikasie en ander papierwerk wys. Ek kon gelukkig bewyse oplewer vir alles wat ons tot op daardie stadium aangevang het. Hulle het taamlik simpatiek opgetree en darem genoem dat ek nou nie die tipe ou is waarvoor hulle gewoonlik op die uitkyk is nie:)

Nadat hulle my paspoort gekonfiskeer het (lekker né?!) is ek gevra om hulle die Maandag in San Diego te ontmoet sodat hulle vingerafdrukke kan neem en ek die nodige vorms invul vir my verhoor wat op 'n latere datum sou plaasvind.

Ek moes so 'n halwe dag by die Federal Buildings vertoef terwyl hulle vingerafdrukke geneem het en fotostate van al my papierwerk gemaak het vir my alien registration file. My paspoort is ook by die spulletjie gevoeg. Ek moes die formele aanklag teen my teken en het 'n vir 'n onmiddelike verhoor (binne 7-10 dae) gevra met die idee dat ek sommer myself verteenwoordig en dalk dinge vinnig genoeg kan afhandel om nog die huidige semester in te val by Westminster Seminary. Die aanklag eis dat ek onwettig in die V.S.A. vertoef het na die datum wat deur die immigrasie offisier by die lughawe aan my gegee is. Die feit dat USCIS gesê het dat ek wettig in die land sou wees totdat die uitslag van my aansoek bekend gemaak is het by ICE geen water gedra nie...vreemd:# Die hoogtepunt van die dag was verseker die omelet en koffie wat ek by die kantien opgepik het:)

Voor ek daar weg is het ek weer navraag gedoen oor die uitslag van my USCIS aansoek - siende dat ek nog steeds geen formele terugvoer van hulle ontvang het nie! Die special agent het so vir 30 minute verdwyn en my toe hy terugkom meegedeel dat daar al teen 16 Januarie 'n besluit gemaak is en dat die uitslag nie in my guns was nie.

Alhoewel die hele gedoente so op die oog af nogal negatief mag lyk, is die ongelooflike ding dat watookal hulle tydens my verhoor besluit die finale sê het en die USCIS aansoek se uitslag override. Indien ek die uitslag van USCIS ontvang het sou dit die einde van die storie gewees het...dis 'n tweede kans so reg uit die hemel:)

Die hofbevel het so 'n week later in die pos gekom...my verhoor is om 8:30am op 24 Maart 2009. Wat van my versoek om 'n onmiddelike verhoor geword het, weet ek nie:) Hulle het 'n lys met gratis regsverteenwoordiging aangeheg, maar dit lyk nie na die tipe verteenwoordiging waarop 'n mens kan staatmaak nie. Ek het 'n paar goeie kontakte opgebou deur 'n vriend van seminary wie se pa 'n ex-special agent van ICE is. Ek stort tot dusver al my energie daarin om 'n goeie, betroubare prokureur te kry om my saak te behartig sonder om ons bankrot te laat.

Ons trek nou so aan die begin van Maart maand en ons is nou baie afhanklik van ondersteuning in gebed. Ek is onseker of dit die moeitewerd is om 'n klomp geld uit te gee aan prokureursonkostes en of dit sal werk om my saak sommer self te behartig (my mening is dat ons 'n dood eerlike en eenvoudige saak op hande het en dat ek die detail waarskynlik beter verstaan as enigeiemand anders). Ons het nog geen terugvoer van ons kontakte ontvang in terme van hulp met regsverteenwoordiging nie.

Lyk vir my die hel slaan om mens los as jy die dag besluit om die bediening te betree:) Ek en Bella is taamlik rustig oor die affêre behalwe vir die senuwees wat met die wagperiode knaag.

Ons sal dit vreeslik waardeer as julle ons in hierdie tyd met gebed kan ondersteun. Sover dit ons betref is dit nou alleen in God se hande. Wat ons kon doen het ons gedoen!

Baie dankie vir almal wat ons bemoedig en in gebed ondersteun. Ons stap al 'n lang pad tot hier en al voel ons aan die flou kant sal dit pure dommigheid wees om God nie vir die laaste ou bietjie ook te vertrou nie.

Fluit fluit ons storie is uit:)

Groetnis,
Jac en Bella